- 歌曲
- 时长
简介
ANDRIES VERMEULEN – BAKBEEN ANTIES As die Sandveldse sanger Andries Vermeulen met sy jongste album, Bakbeen Anties, “boere-Afrikaans op sy beste” beloof, hoef ‘n mens nie een keer te twyfel nie. Dié 27-jarige storieverteller en sanger - oorspronklik van Redelinghuys in die Sandveld - het 16 liedjies opgeneem wat hom as die meester van makietie-musiek vestig. Andries het in 2006 met Wie se hanne, wie se voete gedebuteer en ‘n jaar later met die album Jy vry lekker... maar nie so lekker soos jou sussie nie teruggekeer. Dié CD is vir ‘n Suid-Afrikaanse Musiekprys (Sama) én Huisgenoot Tempo-toekenning benoem. Weskus Kwêla het in 2010 gevolg, maar Bakbeen Anties is volgens Andries sy beste partytjie-album tot nog toe. Bakbeen Anties borrel behoorlik van die voetejeuk-musiek. Die titelsnit is ‘n heerlike boeremusiek-kuierdeuntjie wat die luisteraar sommer terselfdertyd breed sal laat glimlag. Net so prettig is Stef Kruger se Binneboud Bicycle en Elandsbaai se Groot Vyf, wat Pieter Smith geskryf het. Danie Niehaus het ‘n hele paar snitte vir dié album geskryf, waarvan Highway van jou hart Andries se gunsteling is. “Soos met al my ander CD’s wou ek seker maak dat my musiek vir die grootste boerekuiers sal sorg. Ons het besluit om weer my Weskus/Sandveld-boerekuiermusiek vas te vang, maar ook baie dieper in my binneste te loop krap met die mooier snitte op die album.” Andries, wat deesdae in Bloemfontein woon, is in Kaapstad gebore en dit is op laerskool in Redelinghuys waar hy die een was wat almal vermaak het. “Ons word in die Sandveld, Weskus, Namakwaland en Boesmanland grootgemaak met stories en verhale – nie grappe nie. Ek het altyd ‘n varkoor gegooi as daar ‘n goeie storie om die vuur vertel is. My stoffasie waarvan ek gebore is, is dié van stories vertel.” Dié storieverteller kan nou op die dubbel-album ...want hy vertel so lekke ervaar word. Andries vertel op die twee CD’s bykans sestig stories saam met Alan Hughes. Hy is al twee keer vir ‘n kykNET Fiesta benoem as beste aanbieder en sy gawe om agter die mikrofoon, op kamera of sommer net om die kampvuur soos ‘n wafferse Tolla van der Merwe ‘n gehoor te vermaak, word uitstekend op hierdie storie-albums bewys. “Ek is as storieverteller geleer en ‘grootgemaak’ deur die land se legendes... Oom Ollie Viljoen, oom Zack du Plessis, oom Arno van Zyl en Alan Hughes. Hulle het my die goue reëls en maniere geleer om stories tydloos en lewendig te maak. Dit het eintlik my hele loopbaan geword.” Andries Vermeulen is ‘n sanger-storieverteller sonder gelyke. Met Bakbeen Anties en ...want hy vertel so lekke wys hy meer as net sy staal as sanger en storieverteller. Hy vestig homself as die koning van vermaak en lekkerlag!